Charlene se pad het ná skool teruggelei plaas toe, waar sy saam met haar pa begin boer het. Tussen die lande en die oes het sy die stroper bestuur. Dit was juis daar, tussen die mielielande van Lourens se omgewing, waar hul paaie die eerste keer gekruis het.
Lourens het gou besluit hy wil hierdie meisie beter leer ken. Met ’n bietjie plan maak (en dalk ’n tikkie hoop), het hy moeite gedoen om Charlene se boetie vir ‘n braai en dam-dag uit te nooi. Alles net in die hoop dat sy ook sou saamkom. So, tussen lag, kuier en sonsak-geselsies, het hulle mekaar stadig maar seker begin leer ken.
’n Paar maande later, tydens ’n bosvarkjag onder by Dirkiesdorp, het hulle toevallig in dieselfde bakkie beland. Daardie dag het egter minder oor jag gegaan en meer oor drome, drome oor die toekoms, oor die lewe, en oor alles wat nog voorlê. Teen daardie aand het iets besonders gebeur: hul eerste soen, stil en opreg, ’n oomblik wat die begin van iets diep en blywend sou wees.
Van daardie dag af het hul liefde net gegroei - sterker, dieper en mooier met elke seisoen wat verbygaan.